Friday, 06 February 2009

Debietkaart: Pasop vir nuwe slenter


Met haar debietkaart waag Rosemarie Davie van Seepunt in Kaapstad geen kanse nie. Sy laat nooit die kosbare stukkie plastiek onder haar oë uitgaan nie en sal nie daarvan droom om vir iemand te sê wat haar PIN is nie.

Daarom het dié sakevrou gedink iewers moet iets fout wees toe sy die OTM buite haar Absa-tak in Kaapstad gebruik en ’n strokie ontvang wat sê sy het haar daaglikse onttrekkingsperk oorskry. Sy het nie haar kaart daardie dag gebruik nie – wat op aarde was aan die gang?

Rosemarie het in die bank ’n staat gaan aanvra en tot haar ontsteltenis gesien bykans R30 000 het oor ’n tydperk van vier weke uit haar rekening verdwyn.

Iemand het 53 transaksies aangegaan, onder meer twintig kontant-onttrekkings van R1 000 elk, lugtyd-aankope en betaalpunttransaksies. Sy het geskok huis toe gery, waar sy haar OTM-strokies met haar staat vergelyk het. Dit het hemelsbreed verskil.

Die mense by Absa se forensiese bedrogeenheid het aan-vanklik vermoed sy was nalatig met haar PIN en ‘‘iemand na aan haar’’ het die transaksies aangegaan.

‘‘Maar ek het vir hulle gesê dis onmoontlik,’’ sê Rosemarie. ‘‘Ek het nooit my PIN vir iemand gegee of my kaart verloor nie.’’

Sy is op die ou end ’n welwillendheid-skikkingsbedrag aangebied, maar die slegte nuus was iemand het haar debietkaart gekloon – en sy is nie die enigste slagoffer van dié nuwe skelmstreek nie.

Lees meer hieroor en hoe jy jouself daarteen kan beveilig in Huisgenoot van 12 Februarie.