Friday, 13 February 2009

Steve Hofmeyr weer in die hospitaal


Die nuus was gelukkig toe tog nie so droewig nie.
Toe mense dae gelede hul oggendkoerante oopvou en die hoofopskrif sien – Dokters Veg om Steve Hofmeyr se Lewe – het skokgolwe deur die land getrek. SMS’e het gevlieg en telefoonlyne het gesing. Kon dit wees, net maande ná die vorige groot skrik?

Almal het nog onthou hoe een van die land se gewildste sangers verlede jaar in ’n ernstige toestand in die hospitaal opgeneem is met ’n potensieel dodelike geperforeerde dikderm. En nou weer?

Darem toe nie. Die sanger was in die hospitaal met diep-aartrombose, ’n redelik algemene siekte wat veral met stilsit op vliegtuie – vir lang tye – verbind word. Maar dit kan doodsake beteken as die bloedklont wat dit veroorsaak, probleme begin gee.

Waar ’n besoeker hom in die wagkamer van die Netcare Sunninghill-hospitaal in Johannesburg sien wag het vir ’n sonar-ondersoek vir die bloedklont in sy been, het hy wel sy bes gedoen om so onopsigtelik moontlik te wees. In ’n hospitaaljakkie het hy alleen in die hoek gesit met sy neus in ’n boek en ’n kepsie oor sy gesig getrek.

Later was hy doenig met sy selfoon, en kort voor lank het hy SMS’e begin stuur. Daar was baie vure om dood te slaan. Vriende en aanhangers landwyd was immers steeds onder die indruk dat sy lewe aan ’n draadjie hang. En met reg so: Mense wat diepaartrombose ná groot operasies opdoen, se kans om te sterf is tot 10 persent as dit nie vroegtydig behandel word nie.

Op die ou end was sy prognose goed. Die siekte sou hom hoogstens vyf dae in die hospitaal hou as daar nie komplikasies is nie, het kenners gesê, en daarna sou hy tot ses maande lank medikasie moes gebruik en ’n beenkous dra terwyl sy liggaam self die klont in sy been afbreek. Maar hy sou met sy lewe kon voortgaan.

Ná sy siekte verlede jaar het baie van sy vriende gesê hulle hoop dié gesondheidskrisis dwing die immer bedrywige sanger om nou tot ruste te kom. Aikôna.

Lees meer oor die nuwe krisis in Steve se lewe in Huisgenoot van 19 Februarie.