
Sal jy jou oogtande verruil vir ’n kaartjie na een van die Wêreldbekersokker-wedstryde? Die goeie nuus is dat die winkel oop is. Sedert 20 Februarie kan jy jou kaartjie bestel.
Die slegte nuus? Daar is groeipyne.
Maar pyne of te nie, binne die eerste vyf uur is 60 000 aansoekvorms op die internasionale sokkerliggaam Fifa se webtuiste ontvang – nie minder nie as 200 per minuut.
Net 48 uur nadat die bestelproses begin het, was meer as 300 000 aanlyn-aansoeke vanuit 133 lande reeds by die Wêreldbeker-beheerliggaam. En dis net die aanlyn-bestellings; nou praat ons nie eens van die aansoekvorms vir kaartjies wat by FNB-takke ingevul kan word nie.
Maar talle entoesiaste kla ook kliphard dat hulle nie die webtuiste kon baasraak nie en nog meer was erg omgekrap toe banke se vorms opraak kort nadat dit uitgepak is.
Fifa sê hulle doen wel alles in hul vermoë om die proses glad te laat verloop sodat almal ’n kans het om deel te hê aan die Wêreldbeker-opwinding.
‘‘Ons doen ons bes om vas te stel wat die probleme is en ons het ’n dienssentrum om dit te hanteer,’’ sê Jaime Byrom, uitvoerende hoof van die Fifa-Wêreldbeker-kaartjiekantoor.
HOE gaan ’n mens te werk om ’n kaartjie vir die grootste sportgeleentheid op aarde in die hande te kry? Ons het die besprekingsproses ondersoek en van die lastigste vrae bekyk.
Daar is twee maniere om vir kaartjies aansoek te doen – by ’n FNB-tak of aanlyn. Die proses is soortgelyk aan dié vir kaartjies vir die Konfederasiebekertoernooi van 14 tot 28 Junie hier in Suid-Afrika.
Om te verseker die toewysing van kaartjies is regverdig en deursigtig is die prosedure in vyf fases verdeel, sê Fifa. In die eerse vier fases kan jy nie ’n kaartjie koop sonder om vooraf daarvoor aansoek te doen nie. Baie mense wil graag die wedstryde bywoon en dié stelsel sluit swartmark-herverkope in die meeste fases uit en gee almal ’n gelyke kans, arm of ryk.
Lees meer oor hoe om jou kaartjies vir 2010 in die hande te kry in Huisgenoot van 5 Maart.