Friday, 13 March 2009

Skakel jou ligte af vir die aarde


Skakel jou ligte op ’n Saterdagaand ’n uur lank af en help red die planeet!

Dit is wat nou van alle Suid-Afrikaners gevra word op 28 Maart, as deel van die WêreldNatuurfonds (WWF) se Earth Hour-veldtog om mense bewus te maak van klimaatverandering.

Maar asseblief, regtig, watter verskil kan ’n uur nou maak?

Blykbaar heelwat. Want hoor net wat twee jaar gelede al met die eerste Earth Hour gebeur het toe net 2 miljoen mense in Sydney, Australië, die ligte ’n uur lank afgeskakel het. Die verligting vir die arme Sydney se oorlaaide atmosfeer was dieselfde as wanneer jy 48 000 motors ’n uur lank van die pad sou haal.

Die boodskap was duidelik: Jy en jou huis se ligte kán ’n beduidende verskil aan aardverwarming maak.

Verlede jaar het die beweging aansienlik uitgebrei, en 50 miljoen mense wêreldwyd het al hul ligte ’n uur lank afgeskakel. In party stede is tot 13 persent elektrisiteit gespaar. Tot die bekende Colosseum in Rome was in donkerte gehul.

En vanjaar sal mense in hoofstede soos New York
en Hongkong dalk net op 28 Maart vir die eerste keer in baie, baie jare die sterre kan sien. Selfs Parys se beroemde Eiffeltoring gaan donker word.

Tog word dinge vanjaar ’n bietjie anders gedoen. Alle deelnemers kan hul naam op ’n wêreldwye petisie aanbring wat einde van jaar by die Verenigde Nasies se konferensie in Kopenhagen voorgelê gaan word. Hier gaan wêreldleiers beraadslaag oor ’n nuwe klimaatooreenkoms in die plek van die Kioto-protokol, wat in 2012 verval.

As jy jou naam wil hê op wat dalk die belangrikste petisie van die eeu is, registreer by www.earthhour.org.za of SMS jou poskode na 34017. SMS’e kos R2 elk.

‘‘Vertel jou vriende en familie – almal moet betrokke raak en aan die wêreldleiers wys optrede teen klimaatverandering is van kardinale belang,’’ sê dr. Morné du Plessis, uitvoerende hoof van WWF Suid-Afrika.

Die organiseerders soek ’n biljoen ondersteuners in meer as 1 000 stede om te sê: Tree nou op teen aardverwarming.

Vir meer inligting oor hoe jy ook jou kant kan bring, lees Huisgenoot van 19 Maart.