
Jare lank het Shane Warne en Glen McGrath die Proteas se paaltjies met eentonige reëlmaat laat kantel. En wanneer een of dalk albei van hulle dan die Aussies weer ’n toets laat wen het, het ons gesug en gesê: Toemaar, eendag sal dié twee nie meer daar wees nie. Hulle kan tog nie vir ewig boul nie . . .
Toe breek die dag eindelik aan dat die Aussies sonder hul twee grootste wedstrydwenners moet klaarkom. En sowaar, ’n ruk lank lyk hulle kwesbaar. Maar net toe ons gerus wil raak, verskyn ons volgende nagmerrie op die krieketveld: die blitsige Mitchell Johnson (27).
En dit lyk asof hy nou verwoesting saai. Agter hom lê klaar ’n streep Protea-paaltjies, en selfs ’n bloedspoor. Die haastige knaap uit Aussie-land boul selfs van ons voorste kolwers tot in die hospitaal. Mitchell het immers al albei Graeme Smith se hande gebreek.
Daarby kan die man nog kolf ook. Dink maar aan sy onoorwonne 96 in die eerste toets op die Wanderers in Johannesburg. Sjoe . . .
Hy het 4/112 in die eerste beurt geneem en met 8/137 geëindig. Daarby het hy ’n boulbeurt gehad waarin hy twee viere en drie sesse gemoker het, die laaste een skoon uit die stadion!
So ’n skitterend veelsydige vertoning deur ’n Australiër het ons laas twintig jaar gelede van Allan Border in die Wes-Indiese Eilande gesien. Daarmee het hy ook ’n nuwe toetsrekord vir die meeste lopies deur ’n Aussie in een boulbeurt opgestel.
In die tweede toets in Durban het hy weer die Aussies geïnspireer. ‘‘Mitchell is ’n vuurvreter. Hy haal alles uit as hy boul,’’ sê sy spanmaat Andrew McDonald. Toe hy in sy eerste boulbeurt in Durban twee paaltjies omklits, was die Aussies in die wolke.
Soos Andrew self erken: ‘‘Toe hy ’n paar kolwers so erg beseer het dat hulle nie verder kon speel nie, het dit ons baie momentum gegee.’’
Lees meer oor dié Aussie-vonds in Huisgenoot van 19 Maart.