Friday, 06 March 2009

Joost-video: Privaat speurder praat


Die man met die unieke blonde haarstyl leun gemaklik terug in die swart leerstoel van sy ruim kantoor met ’n uitsig op ’n reuse grasperk in Pretoria. Sy groot lyf verdwyn amper agter die stapels lêers op sy oorvol lessenaar. Hy tel pakke papiere op en blaai hier, blaai daar.

Bloed- en urinetoets: geslaag. Poligraaftoets: geslaag. Klanktoets: geen uitsluitsel. So wys Mike Bolhuis, spesialis-ondersoeker na ernstige gewelds- en ekonomiese misdade, die een verslag ná die ander waarin sy kliënt, Joost van der Westhuizen, se onskuld glo bewys word.

Nee, ons mag nie sien wie die toetse gedoen het nie. Dit is vertroulik, want hier kom ’n strafregtelike klag.

Mike en sy span ondersoekers, die meeste van hulle oud-polisielede, stel in opdrag van die gewese Bok-kaptein ondersoek in na ’n omstrede seksvideo wat die land al weke lank aan die raai het. Is dit Joost in die video, of is dit nie?

In die video is ’n man wat soos Joost lyk met ’n skamel geklede blondine doenig, en dit lyk ook of hulle dwelms gebruik. (Dit is nie duidelik hoekom die dwelmtoets hoegenaamd gedoen is nie. Die dwelm cat – toe nie kokaïen nie – wat vermoedelik in die video gebruik word, bly immers net 72 uur in die gestel en is daarna onopspoorbaar.)

Joost hou vol die video is ’n vervalsing deur mense wat ’n komplot teen hom en sy mooi sanger-vrou, Amor, smee. Dit is waar Mike in die prentjie kom. Hy moet die hele bedrogspul – as dit so is – namens die Van der Westhuizens oopvlek.

Maar die stories bly rondvlieg dat Joost al by verskeie buite-egtelike verhoudings betrokke was. En vandag vertel ons self vir hom dat twee vroue Huisgenoot in die afgelope dae gebel het en beweer hulle het onderskeidelik in 2005 en verlede jaar met hom seks gehad. Albei vroue het in fyn besonderhede vertel van hul ontmoetings met hom, maar albei het mettertyd besluit hulle wil tog nie vir publikasie-doeleindes oor hul ervarings praat nie omdat hulle bang is vir hul veiligheid.

Lees meer oor hierdie toetse en die Mike se ondersoek in Huisgenoot van 12 Maart.