
Die Fugly-gedenktuintjie in hul agterplaas is hul plekkie van herinnering aan die lelikste hond met die mooiste persoonlikheid, vertel Clinton en Leila Elbourne van Benoni.
Fugly, ’n opregte Chinese haarlose kuifhond, het in 2006 oornag die beroemdste hond in die land geword toe hy Huisgenoot se Lelikste-hond-kompetisie gewen het. Maar sy aardse lewe was kort, en sy lyfie was deurtrek van pyn toe hy in Januarie vanjaar sterf.
Fugly het sy laaste ure op Clinton en Leila se skoot in die sitkamer deurgebring waar hy ook sy laaste asem uitgeblaas het – nog nie eens vier jaar oud nie. Hy is vermoedelik aan ’n maagsiekte dood. Sy oubaas en ounooi het toe ’n akkertjie in die agtertuin met blomme en struike beplant en Fugly daar in sy eie gedenktuin begrawe, ‘‘sodat hy vir altyd saam met ons kan wees’’.
‘‘Fugly het eintlik ’n baie geleerde naam gehad,’’ vertel Leila trots. ‘‘Sy geregistreerde name was Von Hinterdem Berg Shanghai Knight, maar vir ons was hy net Fugly the Ugly.’’
Fugly het sy titel as die lelikste hond dubbel en dwars verdien: Met sy haarlose lyfie, die klossies hare op sy voorkop en om sy pote, en die wit kolle op sy lyf het hy eerder soos iets uit ’n gruwelfliek gelyk, maar vir sy eienaars was hy die wonderlikste dingetjie op vier bene. ‘‘Hy was buitengewoon intelligent, baie lewendig en besonder vriendelik,’’ vertel Leila. Sy onthou hoe hy op die strand en tussen die rotspoele baljaar het met hul vakansie in Ramsgate. ‘‘Hy was ’n wonderlike maat. Hy was meer as net ’n hond.’’
Lees verder oor Fugly in Huisgenoot van 2 April.