Friday, 20 March 2009

Gefokus op die dood – die Bang-Bang Club


Oral waar hulle gegaan het, het hulle die dood op film vasgelê: ruite vol bloedspatsels, brandende lyke, gewelddadige onluste, smart, moord, oproer.

Die aanloop tot die verkiesing in 1994 was ’n bloedige tyd in Suid-Afrika. Soggens het mense in townships opgestaan en nie geweet of hulle die son daardie aand sou sien sak nie. En altyd was vier bepaalde fotograwe met hul kameras by om die wêreld te wys: Dis wat hier gebeur, dit daar . . .

Hulle was by as die klippe getrek en die koeëls begin fluit het, en so het Kevin Carter, Greg Marinovich, Ken Oosterbroek en Joao Silva hul bynaam gekry – die vier fotograwe van die Bang-Bang Club.

Hul ikoniese foto’s van dié hartseer tyd het interna-sionaal bekend geword, soos die een wat Greg Marinovich ’n Pulitzer-prys besorg het, van Lindsaye Tshabalala wat in Soweto geskop, gesteek en gestenig is voor hy aan die brand gesteek en sterwend agtergelaat is.

Daar was ook die een wat Kevin Carter in die Soedan geneem het van ’n aasvoël wat ’n uitgeteerde kind sit en dophou, wat hom die Pulitzer besorg het.

Daar was foto’s van die polisie wat op oproeriges skiet, van ’n verwoede menigte wat ’n lyk opkap, van lyke wat in ’n sleepwa gegooi word – die lys ellendes wat voor hul lense verbybeweeg het, was skynbaar eindeloos.

Hulle was onverskrokke, altyd midde-in die aksie. Party mense het gesê hulle was roekeloos. Hoe ook al, die hartverskeurende beelde wat hulle teruggebring het, het die wêreld tegelykertyd geboei en gewalg.

Hul verhaal het in 2000 ’n suksesvolle boek geword, The Bang-Bang Club: Snapshots from a Hidden War, geskryf deur die twee oorlewende lede, Greg en Joao.

Ken is op 18 April 1994 in die Tokoza-township suid van Johannesburg noodlottig gewond net ’n paar dae voor Suid-Afrika se historiese demokratiese verkiesing. Greg, wat ook gewond is, vermoed hulle is deur dwaalkoeëls getref wat deur die Nasionale Vredesmag afgevuur is. ’n Paar maande later het ’n getraumatiseerde Kevin selfmoord gepleeg.

En nou, danksy die visie van die gebore Suid-Afrikaanse regisseur Steven Silver, word hul verhaal uiteindelik vir die silwerdoek verfilm.

Lees meer oor die dapper fotograwe se ervarings in Huisgenoot van 26 Maart.