
Voet-in-die-hoek-krieket met ’n sterk Indiese geur – dis aan die kom. Een van die wêreld se opwindendste krieketreekse het soos ’n ryp vy heel onverwags in Suid-Afrika se skoot geval.
Die Twintig20-skouspel van die superryk Indiese Premier-liga (IPL) vind van 18 April hier plaas nadat vrese vir die veiligheid van die spelers Indië genoodsaak het om blitsvinnig ’n ander gasheerland vir dié skouspel te kry.
In Indië is krieket sterker as die sterkste kerrie uit Durban. Van die land se rykste sakemanne en selfs Bollywood-akteurs het juis vroeër vanjaar miljoene dollars gebie om die wêreld se voorste krieketspelers in hul Twintig20-span te hê, mense soos ons eie Graeme Smith en JP Duminy, die krieketlegende Sachin Tendulkar en die Australiese stoutseun Shane Warne, wat reeds uit eersterangse krieket getree het. Maar hy gaan nou saam met al die ander sterre op Suid-Afrikaanse bodem in aksie wees as kaptein en afrigter van die Rajasthan Royals, verlede jaar se kampioenspan.
Leer sommer nou dié en die sewe ander spanne se name ken: die Delhi Daredevils, Mumbai Indians, Chennai Super Kings, Kolkata Knight Riders, Bangalore Royal Challengers, Deccan Chargers en Kings IV Punjab. Dis hulle wat nou sake hier kom uitspook.
‘‘Dis fantasties vir die spel in ons land, en ek is seker dit sal ’n reuse sukses wees,’’ het die Protea-kaptein, Graeme Smith, gesê toe Suid-Afrika dae tevore gehoor het dat die tweede Indiese reeks hier aangebied gaan word. Hy speel self vir die Rajasthan Royals.
Maar die reeks is nie net goed vir krieket nie – dis ook ’n fantastiese bonus vir ons ekonomie wat juis nou soveel druk beleef.
Meer hieroor in Huisgenoot van 2 April.