Friday, 06 March 2009

Man word vrou, verloor werk


Hy was vyf jaar oud toe hy besef hy’s eintlik ’n vrou in ’n man se liggaam. Nog 35 jaar moes verbygaan voor hy eindelik kon word wat hy werklik was – net om twee maande later die droom in ontnugtering te sien versplinter.

Christine Ehlers onthou hoe sy, destyds nog Christiaan, op haar troudag in die klein Metodiste-kerkie in Pretoria as bruidegom heimlik gewens het dit kon eintlik sy gewees het wat in ’n asemrowende bruidsrok voor die kansel staan.

Toe sy uiteindelik verlede jaar ’n geslagsveranderings-operasie ondergaan, het sy nooit besef haar grootste droom sou binne weke liederlik versuur nie – sy het haar werk verloor omdat sy ’n vrou geword het.

Böhler Uddeholm, die internasionale staalmaatskappy waar Christine gewerk het, sê die man wat skielik ’n vrou geword het, pas nie by die beeld wat sy meestal manlike klante van die onderneming het nie.

‘‘Hulle het gesê my kontrak stel dit duidelik dat hulle ’n man aangestel het, en dat ek intussen ’n vrou geword het,’’ vertel sy driftig.

Die stem is dié van ’n man, maar wanneer jy na haar kyk, sien jy iets heel anders. ’n Nommeragt-broek span styf om haar slanke heupe. Onder die halslyn van haar swart trui sien jy die rondings van haar borste. Onmiskenbaar vrou.

Toe sy verlede November gesê is dat sy haar vaste pos vir ’n vryskutpos bloot teen kommissie moet verruil of haar dienste word beëindig, het sy besluit om nie ’n bohaai by die werk op te skop nie.

‘‘Ek het dit soos ’n dame hanteer en dadelik ’n arbeids-prokureur aangestel. Ek gaan dié ding beveg,’’ sê sy.

In wat ’n toetssaak en ’n eerste in Suid-Afrika sal wees as dit arbeidshof toe gaan, sal Christine (41) die eerste transseksueel word wat ’n groot maatskappy pak omdat hulle haar op grond van haar geslagsverandering afgedank het.

Sy vergader op 11 Maart met haar werkgewers om saam met die bedryf se bedingingsraad die saak te probeer oplos – ’n verpligte prosedure voor dit verder gevoer kan word – maar as hulle nie kry wat hulle toekom nie, sê André Schmidt, haar arbeidsprokureur, gaan hulle arbeidshof toe.

Lees meer oor Christine se verhaal in Huisgenoot van 12 Maart.