Friday, 06 March 2009

Liedjiewedstryd: Só kan jy wen


Jy hoor dit al in jou verbeelding, die melodie, selfs die woorde . . . Of dalk nie. Want om ’n liedjie te skryf kos nie net inspirasie nie; dit kos ook harde werk, en aanhou en uithou.

Vra maar verlede jaar se wenner van Huisgenoot se supergewilde liedjieskryfkompetisie, Hugo Ludik van Johannesburg.

Hy en Willie van der Merwe het met Papsopwinter-waternat met die louere weggeloop. En volg dan sy raad, want dié jaar is die wenner dalk jy.

Dis reg, Huisgenoot se tweede liedjieskryfkompetisie het pas afgeskop en ons is hard aan die soek na daardie aansteeklike deuntjie, of die lirieke wat iets aan jou binneste doen. En soos Willie self sê: ‘‘Die meeste mense word nie met skryftalent gebore nie. Probeer weer, en weer. Ek skryf ook maar my pad vorentoe so tussen die mislukkings deur.’’

Hoogstens vyf inskrywings per persoon per kategorie word aanvaar.

Kategorie 1 is vir musiek en lirieke en kategorie 2 net vir lirieke.

Sit elke inskrywing in sy eie, afsonderlike koevert met jou volledige besonderhede daarin. Plak die voltooide inskrywingsvorm op hierdie bladsy buite-op. Vorms mag gekopieer word. Plaas dan al jou koeverte in ’n groter koevert en stuur dit aan ons. Onvolledige inligting op die inskryfvorms kan tot diskwalifisering lei.

Stuur jou inskrywing voor 24 April na Huisgenoot Afrikaanse Liedjies, Posbus 6929, Roggebaai 8012.

Vir meer inligting oor hoe jy aan die Liedjieskryfkompetisie kan deelneem, lees Huisgenoot van 12 Maart.