Friday, 09 January 2009

Ystervrou met die sagte hart


Sy het haar deur niks en niemand van stryk laat bring nie. Sy was vreesloos, vlymskerp en onversteurbaar. Soos daardie dag in die parlement toe sy, aan die woord en op die been, skielik voel hoe die rek van haar onderrok skiet gee en die lappie teen haar bene afgly . . .

Formidabel soos sy was, het sy nie oor ’n enkele woord gestruikel nie. Sy het die manne reguit in die oë bly kyk, met ’n subtiele voetbeweging uit die onderrok getree, dit weggeskuif en klaar gepraat. Die onstuitbare Helen het dié ongemaklike uitdaging oorkom sonder om te blik of te bloos, het die verslaggewers wat alles uit die persgalery aanskou het, vertel.

En net daar het hulle almal besluit: Hieroor word nie berig nie. Hulle het eenvoudig te veel respek vir dié vrou om haar waardigheid te krenk.

Inderdaad, niks kon die legendariese politikus van die eertydse Progressiewe Party wat op Nuwejaarsdag op 91 jaar by haar huis in Illovo, Johannesburg, oorlede is, in haar spore stuit of haar haar immer spitsvondige woorde ontneem nie.

As lid van die opposisie het sy die apartheidsregering van 1953 tot 1989 onverskrokke aangevat en met haar soms skerp humorsin haar politieke teenstanders gekarnuffel. Dié voorstander van gelyke regte vir alle Suid-Afrikaners het die destydse eerste minister, P.W. Botha, ’n ‘‘bombastiese boelie’’ genoem en gesê as hy ’n vrou eerder as ’n man was, sou hy op ’n besemstok by die parlement opgedaag het.

Die Groot Krokodil het dié briljante spreker verpes en haar ‘‘ ’n venynige klein kat’’ genoem. Maar sy het haar net mooi niks gesteur aan die wysvinger wat hy so graag in haar rigting geswaai het nie. ‘‘Ek is nie bang vir jou nie – ek was nog nooit, en sal nooit wees nie. Ek dink niks van jou nie,’’ het sy die landsleier eenmaal toegesnou.

Sy’t haar ewe min laat intimideer deur sy voorganger, dr. H.F. Verwoerd. Toe die vader van apartheid eenmaal vir haar sê die land het haar afgeskryf, het sy teruggekap: ‘‘Die wêreld het jou afgeskryf.’’

En toe ’n minister in die NP-regering eendag waarsku haar uitdagende vrae aan die parlement verneder die land, het sy ewe koel geantwoord: ‘‘Dis nie my vrae wat die land verneder nie, dis jou antwoorde.’’

Lees meer oor die formidabele veteraan-politikus in Huisgenoot van 15 Januarie.