Friday, 23 January 2009

Span die net, hier kom pret!


Prysgeld van R5 miljoen, ’n begroting van miljoene rande, spesiaal geboude bane op die parkeerterrein van een van Gauteng se glansrykste casino-oorde en genoeg aantreklike spelers van formaat om tennisgeesdriftiges én manne-jagters tevrede te stel.

Dit is wat op ons wag wanneer die eerste Suid-Afrikaanse ope tennistoernooi wat in dertien jaar deur die Vereniging van Beroepstennisspelers (ATP)- wêreldtoer goedgekeur is, in Johannesburg plaasvind. Dit lui ’n era in waarin Suid-Afrika terugkeer na wêreldklas-tennis.

Van die opwindendste name in die sport sal aanstaande maand op die splinternuwe bane by Montecasino in Fourways, Johannesburg, kragte meet – onder andere die vleispaleis wat die Muhammad Ali van tennis genoem word.

Jo-Wilfried Tsonga van Frankryk, die sewende beste speler in die wêreld, het sy bynaam gekry omdat hy baie lyk na die bokslegende in sy fleur. Maar party mense noem hom Tsoenami nadat hy die wêreld se nommereen-speler, Rafael Nadal, in verlede jaar se Australiese Ope platgeloop het. En nou sal aanhangers hier die kans kry om sy kanon-afslaan en vlugvoetige manewales onder die Afrika-son te geniet.

Die Spanjaard David Ferrer, twaalfde op die wêreldranglys, sal vroue se hart vinniger laat klop wanneer hy op die baan stap met sy kenmerkende wit kopband wat sy donker lokke in toom hou en sy voorarmspiere wat bult wanneer hy balle oor die net laat zoem . . .

Lees meer oor die opwindende tennis wat voorlê in Huisgenoot van 29 Januarie.

WEN!
Tien lesers kan elk dubbelkaartjies wen na die tennis op die aand van Woensdag 4 Februarie. SMS voor 1 Februarie die woord TENNIS, gevolg deur jou naam, van en adres, na 34922. SMS’e kos R2 elk.