Friday, 23 January 2009

’n Stil, rustige blits


Nog geen Suid-Afrikaner het al reggekry wat ’n rustige kêrel met ’n passie vir wiele pas vermag het nie – om 9 500 km ver oor feitlik onbegaanbare paaie en groot sandduine te jaag en eerste oor die wenstreep van die moordende Dakar-tydren te trek. En dít met ’n seer rug.

Nou sit Giniel de Villiers (36) voor my by sy huis in Stellenbosch, net ’n paar dae ná sy oorwinning wat die hele land gaande het. Sy rug is nog altyd seer, maar hy praat al klaar van sy voorbereiding vir die volgende Dakar-tydren.

Hy is presies die teenoorgestelde van wat jy van ’n spoedvraat sou verwag – stil en rustig. Dit lyk asof hy met net soveel gemak die mees veeleisende van alle tydrenne voltooi het as wat hy nou vrae oor sy geskiedkundige oorwinning beantwoord. En dit terwyl hy ’n uitgerekte oproep hanteer om ’n vlug te kanselleer.

Dit was nie sy eerste aanslag op die gesogte titel nie. In 2006 het hy tweede geëindig, maar dit was kort nadat hy klierkoors gehad het en hy was nog aan die herstel daarvan.

‘‘Ek het niks anders gedoen as voorheen nie,’’ sê Giniel van sy roemryke oorwinning vanjaar. “My benadering was dieselfde – ek dink ek was die vorige kere net ongelukkig.’’

DIT was so amper of hy moes sy droom laat vaar om vanjaar in die Dakar-tydren te jaag – en te wen.

‘‘Ek het tien dae voor my vertrek my rug seergemaak toe ek van my fiets afgeval het. ’n Kraakbeenskyf tussen twee werwels het geskuif, op ’n senuwee gedruk en my linkerbeen lam laat voel,’’ vertel hy. “Ek het dwarsdeur die reis pyn gehad, maar die oorwinning maak alles die moeite werd.’’

Lees meer oor Giniel se deursettingsvermoë en sy oorwinning in Huisgenoot van 29 Januarie.