
Kaptein Kanniedood, Kaptein Heldemoed, Koning Graeme die Leeuhart – die Proteas se kaptein, Graeme Smith, het ’n hele rits baie vleiende nuwe byname gekry ná sy dapper spel twee weke gelede in Sydney met gebreekte linkerhand en gekrokte regterelmboog en al.
Dis ’n salige dag vir Graeme. Hy word nou die dapperste man in wêreldkrieket genoem – die einste Graeme Smith wat so dikwels as arrogant beskou is en uitgekryt is vir ’n grootbek. Dié keer was die Aussie-skare van meer as 9 000 op hul voete om hom toe te juig.
Maar waar kom hierdie nuwe Graeme vandaan? Dis in vele mate te danke aan die man wat Graeme ‘‘my lewensafrigter’’ noem. Hy het persoonlik en in sy spel gegroei met die hulp van die Britse sportsielkundige Jeremy Snape, vertel Graeme enkele dae ná sy terugkeer na Suid-Afrika uit Australië.
‘‘Ek kon by hom aanklank vind omdat hy afrig met ’n goeie kennis van krieket én die sielkundige kant van wat dit verg om as speler meer te fokus,’’ vertel Graeme.
Jeremy het hom middel verlede jaar by die Proteas aangesluit as lid van die span afrigters. Sy hoofdoel was om die spelers te help om nie oorweldig te voel as die oomblik te groot is nie, soos wanneer hulle teen Australië te staan kom in ’n halfeind- of eindstryd.
‘‘Hy help veral die jong ouens in die span met hul geestesingesteldheid; om te bedaar as dit belangrik is om besluite op die veld te neem,’’ sê Graeme.
‘‘Ons klomp Suid-Afrikaners is so passievol en emosioneel oor dinge. Dit is soms nodig om daardie trots te temper met helder denke. Jy moet konsentreer en jou tyd gun om belangrike besluite te neem sonder dat jou emosies jou pootjie.’’
Jeremy is bekend as ‘‘bruikbare, denkende krieketspeler’’. Hy was self ook kaptein – van Leicestershire se suksesvolle Twintig20-span – en het sewe jaar gelede ook in tien internasionale eendagwedstryde gespeel. Ná sy uittrede het hy sy kolf- en draaiboulvernuf aangevul met ’n meestersgraad in sportsielkunde.
Lees meer oor Graeme en Jeremy se wen-kombinasie in Huisgenoot van 22 Januarie.