
Sy het gedink sy gaan vir die res van haar lewe agter tralies bly sit vir ’n moord wat sy nie gepleeg het nie. Elke oomblik dat Suzanne Holdsworth (38) in haar tronksel in die Low Newton-tronk in Brasside naby Durham in Engeland deurgebring het, was vir haar soos ’n aaklige nagmerrie waaruit sy maar net nie kon wakker skrik nie.
Nou het die waarheid uitgekom en is sy eindelik weer vry. Maar vier jaar lank het Suzanne ’n lewende hel deurgemaak nadat sy lewenslange tronkstraf opgelê is vir die moord op haar buurvrou se tweejarige seun.
Sy het Kyle Fisher op 21 Julie 2004 by haar huis in Hartlepool opgepas en die twee het televisie gekyk toe die seuntjie stuiptrekkings kry. Sy het dadelik ’n ambulans ontbied, maar die kind is twee dae later dood.
Suzanne, ’n rakpakker by ’n plaaslike supermark, was die noodlottige aand alleen by die huis. Die polisie wou nie haar weergawe van die gebeure glo nie. En die hof het later bevind sy het haar humeur verloor en Kyle se kop herhaaldelik teen ’n trapleuning gekap met net soveel geweld as ’n motor wat teen 97 km/h per uur in ’n botsing betrokke is.
Tog was daar geen afdoende bewyse nie: geen DNS-monsters is van die trapleuning geneem nie en geen hare is op die toneel gevind nie. Maar dit het nie die polisie gekeer om in die media aan te kondig dat hulle Kyle se moordenaar vasgetrek het nie.
Suzanne was vasbeslote om haar onskuld te bewys. Sy het in verlede Mei die appèlhof genader en haar skuldigbevinding is ter syde gestel na sekere bevindings in twyfel getrek is.
Sy is toe op borgtog vrygelaat tot haar herverhoor verlede Desember in ’n hoër hof in Teesside. Daar is sy van moord en ’n alternatiewe aanklag van strafbare manslag vrygespreek nadat mediese kenners getuig het Kyle het inderdaad weens ’n epileptiese aanval gesterf.
Die regstelsel het haar gefaal, sê Suzanne, wat nou in Leeds woon. In die tronk het sy by tye gedink sy gaan nooit weer haar kinders en geliefdes sien nie. ‘‘Ek het gedink ek sal vir ewig daar moet bly.’’
Lees meer oor dié dramatiese gebeure in Huisgenoot van 5 Februarie.