
Toe hy – net negentig sekondes nadat sy Airbus 320 met 150 passasiers en vyf bemanningslede in New York opgestyg het – ’n swerm Kanadese brandganse teen die voorruit sien vasvlieg, is die kaptein se eerste gedagte: ‘‘Te laag, hopeloos te stadig en te naby aan Manhattan se digbewoonde wolkekrabbers . . .’’
Maar Chesley (Sully) Sullenberger 3 is ’n man wat weet van kalm bly – selfs toe hy besef hy is op ’n vliegtuig wat binne enkele oomblikke kan neerstort.
Met ’n enkele bevel: “Mý vliegtuig,” het hy die stuurstang gegryp en beheer oorgeneem by sy mede-vlieënier Jeff Skiles wat die vliegtuig laat opstyg het.
‘‘Die volgende oomblik was daar ’n stamp, die reuk van verbrande voëls en doodse stilte toe albei enjins onklaar raak,’’ sou Sully die voorval later beskryf.
Om terug te draai na die LaGuardia-lughawe van waar hulle opgestyg het, was nie ’n opsie nie. Die beheertoring wou hom na die Teterboro-lughawe daar naby laat draai, maar dan sou hy oor noordelike New Jersey moes vlieg en hy wou tot elke prys ’n ‘‘katastrofiese ongeluk’’ vermy.
Toe sê die oud-vegvlieënier kalm en beheers: ‘‘Ons kan dit nie doen nie. Ons gaan in die Hudson land.’’
Asof hy dit al jare lank doen, het Sully – ook ’n opgeleide sweeftuig-instrukteur – die swewende Airbus bo-oor die George Washington-brug gestuur en foutloos naby ’n veerboot op die gladde rivier neergestryk. Met die landing het een van die enjins afgebreek en rook het die kajuit begin vul.
Maar sy stem was steeds kalm toe hy oor die luidsprekers vir die passasiers sê: ‘‘Ontruim.’
Lees meer oor die dramatiese noodlanding en die koelkop kaptein in Huisgenoot van 29 Januarie.