Friday, 09 January 2009

Vasbyt vir sukses


Die afgelope jaar, sy matriekjaar, was Joseph Dimpe (19) elke oggend met hanekraai uit die bed. Dit was maar vaak-vaak, want daar was min tyd vir slaap: Hy moes in 2008 sy uithouvermoë bewys. ’n Mens se matriekuitslae bepaal immers jou toekoms.

Sodra ’n pot pap op die primusstofie aan die kook was, het hy gou sy kamer netjies gemaak en sy skoolklere aangetrek. Dan het hy sy ontbyt afgesluk en ’n tweede bord pap en ’n bord sop reggesit vir wanneer sy ma, Lizzy, netnou opstaan.

Hy was twaalf jaar oud toe ’n beroerte die linkerkant van haar lyf verlam gelaat het. Daarna kon sy nie eens meer die basiese dagtakies self doen nie. En soggens moes haar lieflingkind haar help aantrek voor hy en sy beste vriend, Emannuel Dladla, die sowat 10 km deur die stofstrate van Ga-Rankuwa buite Pretoria na die Hoërskool Setlalentoa aangepak het.

Sewe-uur moes hulle al daar wees, want voor die skoolklok ’n uur later lui, wou dié twee en drie ander matriekvriende die skoolwerk wat hulle die vorige aand volgens hul selfopgestelde studierooster moes doen, weer een keer deurgaan. Elke minuut was waardevol – nie een kon verkwis word nie.

Wanneer die klok die einde van die skooldag aangekondig het, het dié klompie nie soos ander skoolkinders sportveld toe gedraf nie. Sommige middae was daar ekstra wiskunde- en wetenskapklasse en op die ander het die studiegroepie in die skoolbiblioteek saamgekom om te studeer.

Teen vyfuur moes Joseph sy boektas pak en huis toe drafstap, waar Lizzy onder die wilger voor hul helderoranje viervertrek-sinkhuisie in Ramogodi Village gewag het.

Joseph was – is nog steeds – immers al wat dié 47-jarige vrou het. Haar seun se pa was nog nooit deel van sy lewe nie en sy broer, Mpho, het sy eie gesin om te versorg.

Lees meer oor Joseph se deursettingsvermoë en harde werk in Huisgenoot van 15 Januarie.