
Die trouklokke sal nou nie lui vir die derde aanspraak-maker op die Britse troon en sy blonde bom uit Afrika nie. Nadat hulle mekaar vyf jaar lank op verskillende vastelande ontmoet het, luilekker en met sopies wodka byderhand op Afrika-riviere gevaar het, op eilande in die son gebaai het, in nagklubs sjampanje weggeslaan het en op luukse safari’s wild bekruip het, het prins Harry en Chelsy Davy hul verhouding beëindig. En dit lyk asof dit dié keer finaal is.
Chelsy (23) het die wêreld laat weet haar passievolle, onstuimige verhouding met die 24-jarige prins is verby deur te doen wat die meeste jong mense doen wanneer hulle weer ’n alleenloper is: Sy het haar status op Facebook verander.
‘‘Verhouding: niemand,’’ het sy geskryf. En al haar Facebook-vriende het die prentjie van ’n rooi gebreekte hart ontvang om dit te laat inslaan. Sy was die een wat halt geroep het en die Britse skinderkoerante het berig Chelsy het daarna by vriende ‘‘haar oë uitgehuil’’. Wat Harry betref, hy was ‘‘verpletter’’ dat die blondine met die mooi kurwes uit sy lewe is.
Maar die trane en trauma was van korte duur. In Leeds, waar Chelsy vir ’n nagraadse regsgraad studeer, is sy gesien waar sy saam met vriende drink en lag.
En Harry is so verdiep in sy weermagloopbaan dat hy nie veel tyd het vir enigiets anders nie. Die prins word nou as helikoptervlieënier opgelei en is volgens vriende ‘‘effe verlig’’ dat die verhouding verby is.
‘‘Hy het nie tyd vir ’n verhouding én sy loopbaan nie,’’ sê die bron. ‘‘Hy het sleg gevoel dat hy nie meer dikwels by sy meisie kon wees nie. Nou het hy die vryheid om hom op sy opleiding toe te spits.’’
Maar Brittanje is geskok. Net verlede maand het die twee mekaar nog in hul swemklere op ’n strand in Mauritius gesoen en geliefkoos (Huisgenoot, Mense en hul Dinge, 15 Januarie), oënskynlik hoogs verlief.
Maar ’n paar weke later was dit alles verby – en blykbaar was dit onvermydelik.
Lees meer oor Chelsy en Harry se paadjies wat skei in Huisgenoot van 5 Februarie.