
Op ’n pak veelkleurige A4-bladsye staan die 164 dinge geskryf wat hy al bereik het sedert hy sy nek gebreek het. Hy moes weer leer asemhaal. Weer leer regop sit. Weer leer eet.
Al dié dinge het sy suster geskryf op die papiere wat maande lank bo sy bed teen die dak geplak was sodat hy daarna kon lê en kyk en onthou: ‘‘Daar ís hoop, kyk wat het ek al bereik. My lewe sal terugkom.’’
En net meer as ’n jaar nadat Erik Holm (26) verlam is toe hy verlede Augustus in ’n dam in Secunda ingeduik het, kan sy suster, Nike, nou die 165ste mylpaal neerskryf: weer leer kitaar speel.
Want selfs al het die jong akteur en sanger nog nie die gevoel in sy vingers teruggekry nie, word hy binnekort waarskynlik die eerste kwadrupleeg ter wêreld wat sy kitaar voor ’n gehoor gaan tokkel.
‘‘Sover ek weet, is ek die enigste een wat kan kitaar speel. Dis ’n universele eerste,’’ sê Erik met ’n dapper laggie. ‘‘Ek is so dankbaar dat ek weer my liedjies kan speel, ek het skoon hartkloppings. Dit was ’n groot deel van my lewe voor die ongeluk; ek was desperaat om dit weer te kan doen. Dis een van die dinge wat ek die meeste gemis het.’’
Hoewel hy deesdae sy arms en gewrigte kan beweeg, wil sy vingers maar net nie luister na die boodskappe wat sy brein stuur nie. Hulle bly swak, leweloos. Maar noudat sy pa, Erik sr., vir sy linkerhand ’n aluminiumhaak gemaak en ’n spesialis sy kitaar aangepas het sodat hy daarmee oor die snare kan streel, oefen Erik elke dag. En sy eerste vertoning lê voor, selfs al moet hy in sy rolstoel agter die mikrofoon sit.
Nou wag hy nog net geduldig vir die dag wanneer Nike die laaste inskrywing op die papiere maak: weer leer loop.
Lees meer oor Erik se pad na herstel in Huisgenoot van 18 September.
Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.
Gesels met ons: Klik hier en kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.
Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.