
Dit was soos ’n sepie van sukses sonder ’n enkele skurk of jammerlike figuur toe Suid-Afrika se atlete dag ná dag die medaljes ingeoes het.
Uiteindelik was daar 21 goues en ’n totaal van dertig, en ons land kon trots die sesde plek uit 148 op die medalje-ranglys inneem.
Maar dit was nie net die wenners wat hul landgenote besiel het nie. Die durf van al sestig ons Paralimpiese atlete het ná ons droewige vertoning by verlede maand se Olimpiese Spele vir Suid-Afrika ’n broodnodige inspuiting gegee.
Swaksiende, serebraal ge-strem, sonder bene of aan ’n rolstoel gekluister . . . dit het hulle geen duit geskeel nie.
Die blymoedigheid wat hulle uitgestraal het, hul selfvertroue en deursettingsvermoë het die neerslagtigheid onder ons nasie in ’n oogwink in trots omgesit – en ons weer gewys geen terugslag hoef in jou pad na sukses te staan nie.
Die Amakrokokroko’s van ouds is nou niks minder nie as die Amagouegoues, kampioene wie se skitterende vertonings in die swembad, op die atletiekbaan en sportveld hulle ons helde gemaak het – ook onder mense wat tevore kwalik in sport belanggestel het.
Die vraag op almal se lippe is nou waarom ons Paralimpiese atlete dan soveel beter as dié in die Olimpiese Spele gevaar het.
Kenners wys dadelik daarop dat jy die twee nie kan vergelyk nie. Maar die besieldheid van die atlete verklap moontlik die geheim van hul sukses.
Dit gaan oor hoe jy teenoor die lewe ingestel is, meen Oscar Pistorius. ‘‘Jy word nie gestrem deur jou gestremdhede nie; jy is vaardig deur die vaardighede wat jy besit,’’ sê hy.
Oscar het ná twee goue medaljes die beste vir laaste gehou. Dit was in die heel laaste baanwedloop. Hy was emosioneel, uitgeput en oorstelp nadat hy die 400 m binne 47,49 sekondes voltooi het.
Dit was sy kenmerkende durf en vasberadenheid wat Oscar drie sekondes vinniger as sy naaste teenstander oor die wenstreep gedryf het – met ’n wêreldrekord en die derde goue medalje in sy sak.
Lees meer oor Oscar en ons paralimpiese atlete in Huisgenoot van 25 September.
Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.
Gesels met ons: Klik hier en kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.
Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.