Friday, 26 September 2008

SEUNTJIE, MAMMA SE KLEIN POP


Haar oudstes loer verwonderd na die kleinding wat toegewikkel in ’n geel kombersie in haar arms lê. Die donkerkop-dogtertjie buk oor haar ma se skoot en plant ’n soentjie op die wang van die nuutste aankomeling in die gesin.

Sy streel oor die baba se koppie en vat versigtig aan sy handjie. ‘‘Mamma, Boetatjie ruik na poeier,’’ prewel sy saggies.

Maar al lyk die kleinding wat Trya Grundlingh (21) knussies teen haar bors vasdruk met die eerste, tweede én derde kyk presies soos die baba waaraan sy ’n bietjie meer as ’n maand gelede die lewe geskenk het, is dit nie regtig klein Miguel wat sy vashou nie.

Om die waarheid te sê, dis nie eens ’n regte baba nie. Dis ’n pop.

Die Grundlinghs koester dié lewensgetroue pop asof hy gaan knieserig raak as hulle hom verkeerd vashou of te vinnig optel. Hulle hou hom vas soos jy ’n regte baba vashou – met sy koppie in die kromming van jou arm en sy voetjies gestut. Hulle soen hom, druk hom en staar met oë vol liefde na sy slapende lyfie.

Want die pop het die plek ingeneem van die regte Miguel, die een wat ’n dag ná sy geboorte dood is in die hospitaal in Middelburg, Mpumalanga. Sedert die pop ’n paar dae tevore in ’n pakkie in die pos aangekom het, is die verlies aan haar oorlede kind vir Trya net ’n bietjie draagliker.

‘‘Ek weet hy is net ’n pop, maar in my hart is hy my kind. Wanneer ek hartseer word en te veel na Miguel verlang, gaan haal ek my pop uit die kamer. Dan kan ek hom vashou en soen. Dit troos my, dit laat my beter voel. Dit voel dan asof ek my kind weer by my het,’’ sê sy.

Die pop se ousus en ouboet, Dionette (5) en John-Henry (2), is ewe verknog aan hom. Dionette fluister koerwoordjies en John-Henry staar met ’n verbaasde, oop mondjie na die baba wat nooit huil nie.

‘‘Ek het vir hulle verduidelik dis net ’n pop, maar dis soos hul boetie. Hulle noem hom Boetatjie. Ek noem hom Seuntjie,’’ sê Trya met ’n laggie.

Lees meer oor die Grundlinghs se verhaal in Huisgenoot van 2 Oktober.

Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.

Gesels met ons: Klik hier en kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.