Thursday, 25 September 2008

’n Tsoenami van liedjies


Dalk so honderd liedjies? Dit sou ’n gawe reaksie wees op Huisgenoot se eerste Liedjiekompetisie, het ons gedink. Watwo! Toe ons weer kyk, het ’n verbysterende 1 583 liedjies en meer as duisend inskrywings vir ons liriek-kompetisie hier opgedaag!

’n Liedjie-tsoenami wat die possakke laat boepens staan het – dis al woorde vir die stortvloed inskrywings wat op ons gereën het. En die merkwaardigste is dat die meeste liedjieskrywers vir die heel eerste keer so iets gewaag het. Hulle is doodgewone lesers wat die kreatiewe uitdaging met geweldige passie aangepak het – soos net Huisgenoot-lesers kan.

Oud en jonk het ingeskryf – van ’n sewejarige meisietjie tot tieners, middeljarige werkendes en ’n paar senior burgers in hul tagtigs.

Ons sou ’n hele reeks artikels kon skryf oor die verskeidenheid liedjies wat ons ontvang het. En die meeste mense het self ’n plan gemaak met die demo-opnames – daar was CD’s, ouskool-kassette, tientalle mense wat hulself op DVD opgeneem het, ’n paar klein diktafoon-kassette, ’n groen rekenaarskyf en selfs ’n piepklein masjientjie wat soos ’n speldekussing lyk en ’n wysie sing as ’n mens dit druk!

Die temas was fassinerend: persoonlike lief en leed, nostalgie oor kinderjare, die natuur-skoon, visvangdorpies, rugby – om net ’n paar te noem. En De la Rey se invloed loop sterk: Ons het nogal verskeie liedjies oor Rageltjie de Beer ontvang.

Daar was ook minder gewones: ’n tipiese stoutgattreffer, ’n begrafnisliedjie wat die Briels sou beny en selfs ’n liedjie oor ‘‘Oom Jurie Els’’. En een oor die sogenaamde Bloemfontein Beach Hotel wanneer stygende seevlakke finaal hul tol eis.

Die beoordelaars wat die finale keuse moes maak, was gesoute musiekkenners: Laurika Rauch, Calvin Mentor, Johan Rademan, Trevor Sampson, Heidi Edeling en Ernst Kleinhans. Hulle het twee dae lank behoorlik kopgekrap en uiteindelik op die finaliste besluit.

Lees meer oor die finaliste, hoe jy vir jou gunstelingliedjie kan stem en kontantpryse kan wen in Huisgenoot van 25 September.

Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.

Gesels met ons: Klik hier en kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.