Thursday, 25 September 2008

Cowboy – en nie ’n kroek


As jy hom ’n paar jaar gelede in ’n donker stegie raakgeloop het, sou jy dalk wou bid vir jou lewe. Dié bendelid van die Kaapse Vlakte was nie een met wie jy wou sukkel nie.

Maar die vriendelike jong man wat ons by sy ryskool in Kaapstad ontmoet, is vandag ’n baken van lig in sy gemeenskap – alles te danke aan perde.

Twaalf jaar gelede was Kendré Allies (27) van Maitland besig om by die Vlakte se bendewêreld betrokke te raak. Hy het op vyftien die skool verlaat en daar was oorgenoeg dwelms om hom in die versoeking te lei.

Maar vandag het hy sy eie ry-skool met 38 perde, waar hy ook beseerde perde rehabiliteer en sy liefde vir die diere oordra aan kinders wat in moeilike omstandighede grootword.

Perde het hom immers op die regte pad gebring en van hom ’n inspirasie vir ander jong mans van die Kaapse Vlakte gemaak.

‘‘Die perde hou die jong manne van die straat af en ek kry baie plesier daaruit – ek wil iets vir hulle teruggee,’’ sê Kendré. ‘‘Daar was niemand wat vir my die pad gewys het nie, maar ek kan dit vir hulle doen.’’

En deesdae noem mense hom nie meer boelie of gangster nie, maar urban cowboy en die Kaap se eie horse whisperer.

In al sy moeilike grootwordjare was daar net een mens wat hom nooit in die steek gelaat het nie, sê Kendré – sy ouma Annie Allies, wat hom grootgemaak het. En dit was sy wat heel onwetend die vlammetjie van sy liefde vir perde aangesteek het.

‘‘Ek onthou sy het eendag vir my ’n foto gewys waar sy by ’n perd staan, en ek dink toe: As ek so ’n perd kan kry, sal dit my dieselfde mens maak wat sy is . . .’’


Lees meer oor Kendré se inspirerende verhaal in Huisgenoot van 25 September.

Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.

Gesels met ons: Klik hier en kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.