Tuesday, 23 September 2008

Mark Fish se nuwe vangs


Dit is die naweek van die miljoendollar-pokertoernooi en Sun City is bedrywiger as ooit vantevore. Restaurante en kroeë is stampvol en dit is maklik om in die menigte te verdwyn.

Tog kan niemand ’n sekere paartjie in die kroeg van die Sun City Hotel miskyk nie – ’n lenige man met donkerbruin hare en talle tatoes in ’n stywe swart T-hemp en ’n aantreklike jong vrou met lang donker hare in ’n gewaagde swart aandrok. Hulle is klaarblyklik versot op mekaar en kan nie hul oë – of lippe – van mekaar afhou nie.

Die man is Mark Fish, die voormalige Bafana Bafana-verdediger wat ook oorsee as sokkerspeler naam gemaak het toe hy onder meer vir die Britse klub Charlton Athletic gespeel het. Maar die vrou by hom is nie sy modelvrou, Loui, ook ’n donkerkop-skoonheid, nie. Nee, dit is die nuwe liefde in sy lewe, sê hy reguit.

Mark was die afgelope maand gereeld in die nuus. Eers het gewapende inbrekers sy huis in die spogbuurt Mooikloof in Pretoria beroof terwyl Loui en hul oudste seun tuis was (Koelkop-Lukie, Ma se held!, Huisgenoot, 4 September). Daarna het die sokkerheld sy vrou vir ’n egskeiding gedagvaar.

In hofstukke beweer hy sy ‘‘lok rusies uit’’ as hy met haar probeer kommunikeer en was so ‘‘buierig, bakleierig, verkleinerend en bombasties’’ dat hy sy ‘‘liefde, toegeneentheid en vertroue’’ in haar verloor het.

Al wat Loui oor die saak wil sê, is dat dit vir haar ‘‘teleurstellend’’ is dat sulke persoonlike besonderhede oor hul huwelik onthul is. Haar hoofprioriteit is om nou haar kinders, Luke (10) en Zeke (7), te beskerm.

Anders as Mark probeer sy uit die kollig bly sedert die nuus van die egskeiding bekend geword het. Hy het net ’n paar dae nadat hy die egskeiding aanhangig gemaak het, koers gekry Sun City toe vir ’n wegbreek-naweek.

Lees meer oor wat Mark alles sê in Huisgenoot van 18 September.

Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.

Gesels met ons: Klik hier en kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.